Psalms 73
  • 1 'n Psalm van Asaf. Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is.
  • 2 Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly.
  • 3 Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien.
  • 4 Want daar is geen kwellings by hulle nie, gesond en vet is hulle liggaam.
  • 5 In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie.
  • 6 Daarom is die trots om hulle soos 'n halssieraad, die geweld bedek hulle soos 'n gewaad.
  • 7 Hulle oë puil uit van vet; die inbeeldinge van die hart loop oor.
  • 8 Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte.
  • 9 Hulle stel hul mond teen die hemel, en hul tong wandel op die aarde.
  • 10 Daarom draai hulle mense hul hierheen, en waters in volheid word deur hulle geslurp.
  • 11 En hulle sê: Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees?
  • 12 Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom!
  • 13 Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.
  • 14 Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre.
  • 15 As ek gesê het: Ek wil óók so spreek- dan sou ek ontrou gewees het aan die geslag van u kinders!
  • 16 Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë,
  • 17 totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het.
  • 18 Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val.
  • 19 Hoe word hulle in 'n oomblik 'n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge!
  • 20 Soos 'n droom nadat 'n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld!
  • 21 Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was,
  • 22 toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was 'n dier by U.
  • 23 Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat.
  • 24 U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.
  • 25 Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.
  • 26 Al beswyk my vlees en my hart- God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid.
  • 27 Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer.
  • 28 Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel.