Psalms 22
  • 1 Vir die musiekleier; op die wysie van: "Die hert van die dageraad." 'n Psalm van Dawid.
  • 2 My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?
  • 3 My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie; en snags, en ek kan nie swyg nie.
  • 4 Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!
  • 5 Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered.
  • 6 Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie.
  • 7 Maar ek is 'n wurm en geen man nie, 'n smaad van die mense en verag deur die volk.
  • 8 Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:
  • 9 Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom!
  • 10 Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors.
  • 11 Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.
  • 12 Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie.
  • 13 Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring.
  • 14 Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos 'n leeu wat verskeur en brul.
  • 15 Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande.
  • 16 My krag is verdroog soos 'n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.
  • 17 Want honde het my omsingel; 'n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe.
  • 18 Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!
  • 19 Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.
  • 20 Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help!
  • 21 Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond.
  • 22 Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor!
  • 23 Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.
  • 24 Julle wat die HERE vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel!
  • 25 Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp.
  • 26 Van U kom my lof in 'n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.
  • 27 Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe!
  • 28 Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid.
  • 29 Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies.
  • 30 Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie.
  • 31 'n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.
  • 32 Hulle sal aankom en sy geregtigheid verkondig aan die volk wat gebore word; want Hy het dit gedoen.