Psalms 66
  • 1 Vir die musiekleier. 'n Lied. 'n Psalm. Juig tot eer van God, o ganse aarde!
  • 2 Besing die eer van sy Naam, maak heerlik sy lofsang!
  • 3 Sê tot God: Hoe vreeslik is u werke! Deur die grootheid van u sterkte sal u vyande kruipende na U toe kom.
  • 4 Laat die hele aarde U aanbid en psalmsing tot u eer; laat dit u Naam verhef in psalmgesang. Sela.
  • 5 Kom en aanskou die dade van God, Hy wat gedug is in werking oor die mensekinders.
  • 6 Hy het die see verander in droë land; hulle het te voet deur die rivier gegaan. Daar was ons bly in Hom.
  • 7 Hy heers vir ewig deur sy mag; sy oë hou wag oor die nasies. Laat die wederstrewiges hulleself nie verhef nie. Sela.
  • 8 Loof, volke, onse God, en laat hoor die stem wat Hom roem-
  • 9 wat aan ons siel die lewe gee en nie toelaat dat ons voet wankel nie.
  • 10 Want U het ons getoets, o God, U het ons gelouter soos 'n mens silwer louter.
  • 11 U het ons in die net gebring, 'n swaar las op ons heupe gelê.
  • 12 U het mense oor ons hoof laat ry; ons het in die vuur en in die water gekom, maar U het ons uitgelei in die oorvloed.
  • 13 Ek sal met brandoffers in u huis ingaan; ek sal U my geloftes betaal,
  • 14 wat my lippe geuit en my mond uitgespreek het toe ek benoud was.
  • 15 Brandoffers van vet diere sal ek U bring saam met offerrook van ramme; ek sal beeste saam met bokke berei. Sela.
  • 16 Kom luister, en laat my vertel, julle almal wat God vrees, wat Hy aan my siel gedoen het.
  • 17 Ek het Hom aangeroep met my mond, en lofgesang was onder my tong.
  • 18 As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, sou die Here nie gehoor het nie.
  • 19 Waarlik, God het gehoor; Hy het geluister na die stem van my gebed.
  • 20 Geloofd sy God wat my gebed nie afgewys en sy goedertierenheid aan my nie onttrek het nie!