Psalms 50
Afrikaans Die Heilige Bybel · 23 verses
- 1 'n Psalm van Asaf. Die God van die gode, die HERE, spreek en roep die aarde, van die opgang van die son af tot sy ondergang toe.
- 2 Uit Sion, die volkomenheid van skoonheid, verskyn God in ligglans.
- 3 Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.
- 4 Hy roep na die hemel daarbo, en na die aarde, om sy volk te oordeel:
- 5 Versamel my gunsgenote vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit!
- 6 En- die hemele verkondig sy geregtigheid, want God staan gereed om te oordeel! Sela.
- 7 Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God!
- 8 Oor jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My.
- 9 Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie;
- 10 want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende.
- 11 Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My.
- 12 As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid.
- 13 Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink?
- 14 Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste;
- 15 en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.
- 16 Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond-
- 17 terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp?
- 18 As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers.
- 19 Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog.
- 20 Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy.
- 21 Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.
- 22 Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie.
- 23 Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.