Psalms 107
  • 1 Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
  • 2 Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het
  • 3 en uit die lande versamel het, van die ooste en die weste, van die noorde en van die see af.
  • 4 Hulle het gedwaal in die woestyn, op woeste paaie; 'n stad om in te woon het hulle nie gevind nie.
  • 5 Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.
  • 6 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle gered.
  • 7 En Hy het hulle gelei op 'n regte pad om te gaan na 'n stad om in te woon.
  • 8 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
  • 9 want Hy het die dorstige siel versadig en die hongerige siel met die goeie vervul.
  • 10 Die wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en ysters-
  • 11 omdat hulle wederstrewig was teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het,
  • 12 het Hy hulle hart deur moeite verneder; hulle het gestruikel, en daar was geen helper nie.
  • 13 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
  • 14 Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.
  • 15 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
  • 16 want Hy het koperdeure verbreek en ystergrendels stukkend geslaan.
  • 17 Die wat dwase was vanweë die weg van hulle oortreding en weens hulle ongeregtighede gepynig is-
  • 18 hulle siel het 'n afsku gehad van elke soort voedsel, en hulle het tot by die poorte van die dood gekom.
  • 19 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos.
  • 20 Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.
  • 21 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders;
  • 22 en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
  • 23 Die wat na die see toe afdaal in skepe, wat handel drywe op die groot waters-
  • 24 húlle het die werke van die HERE gesien en sy wonders in die diepte.
  • 25 Want Hy het gespreek en 'n stormwind laat opsteek wat die golwe daarvan opgesweep het.
  • 26 Hulle het opgerys na die hemel, neergedaal na die dieptes- hulle siel het vergaan van wee.
  • 27 Hulle het getuimel en gewaggel soos 'n dronk man, en al hulle wysheid is verwar.
  • 28 Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei.
  • 29 Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword.
  • 30 Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hul begeerte.
  • 31 Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders.
  • 32 En laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom roem in die kring van die oudstes.
  • 33 Hy het riviere 'n woestyn gemaak en waterfonteine 'n dorsland,
  • 34 vrugbare land 'n brak aarde, oor die boosheid van die wat daarin woon.
  • 35 Hy het die woestyn 'n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine;
  • 36 en Hy het hongeriges daar laat bly, en hulle het 'n stad gestig om in te woon.
  • 37 En hulle het lande gesaai en wingerde geplant wat vrugte as opbrings verskaf het.
  • 38 En Hy het hulle geseën, sodat hulle sterk vermenigvuldig het, en hulle vee het Hy nie min gemaak nie.
  • 39 Toe het hulle min geword en weggesink deur die druk van onheil en kommer-
  • 40 Hy wat veragting uitstort oor edeles en hulle laat dwaal in 'n woeste wêreld, sonder pad-
  • 41 Hy het die behoeftige beskerm teen verdrukking en die geslagte soos kuddes gemaak.
  • 42 Die opregtes sien dit en is bly, maar alle ongeregtigheid hou sy mond toe.
  • 43 Wie wys is, laat hy op hierdie dinge ag gee, en laat hulle let op die goedertierenhede van die HERE.