Psalms 110
  • 1 Van Dawid. 'n Psalm. Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak 'n voetbank vir u voete.
  • 2 U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.
  • 3 U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe.
  • 4 Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.
  • 5 Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn.
  • 6 Hy sal 'n strafgerig hou onder die nasies; Hy maak dit vol dooie liggame; Hy verbrysel 'n hoof oor 'n groot land.
  • 7 Uit die stroom sal Hy drink op die pad; daarom sal Hy die hoof ophef.