Psalms 41
  • 1 Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid.
  • 2 Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die HERE sal hom red in die dag van onheil.
  • 3 Die HERE sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie.
  • 4 Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander U as hy krank is.
  • 5 Ék het gesê: o HERE, wees my genadig! Genees my, want ek het teen U gesondig.
  • 6 My vyande spreek kwaad van my en sê: Wanneer sal hy sterwe en sy naam vergaan?
  • 7 En as iemand kom om my te sien, dan praat hy leuens; sy hart vergader boosheid vir hom; gaan hy uit na buite, dan spreek hy daarvan.
  • 8 Al my haters tesame fluister onder mekaar teen my; teen my bedink hulle my onheil en sê:
  • 9 Iets skandeliks is op hom uitgestort; en nou dat hy lê, sal hy nie weer opstaan nie.
  • 10 Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig.
  • 11 Maar U, o HERE, wees my genadig en rig my op, dat ek hulle dit kan vergelde!
  • 12 Hieraan weet ek dat U 'n welbehae in my het: dat my vyand oor my nie juig nie.
  • 13 My tog, in my opregtheid ondersteun U my, en stel my voor u aangesig tot in ewigheid.
  • 14 Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot in ewigheid! Amen, ja amen.