Psalms 91
Afrikaans Die Heilige Bybel · 16 verses
- 1 Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.
- 2 Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.
- 3 Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.
- 4 Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.
- 5 Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,
- 6 vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!
- 7 Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand- na jou sal dit nie aankom nie.
- 8 Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.
- 9 Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.
- 10 Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;
- 11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.
- 12 Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.
- 13 Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.
- 14 Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.
- 15 Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.
- 16 Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.