3 Johannes 1
Afrikaans Die Heilige Bybel · 15 verses
- 1 Die ouderling aan die geliefde Gajus wat ek in waarheid liefhet.
- 2 Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan;
- 3 want ek was baie bly as daar broeders kom en van jou waarheid getuig, soos jy in die waarheid wandel.
- 4 Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.
- 5 Geliefde, jy handel getrou in alles wat jy doen vir die broeders, en dit vir vreemdelinge,
- 6 wat van jou liefde voor die gemeente getuig het. Jy sal goed doen as jy hulle voorthelp op 'n voor God waardige wyse.
- 7 Want vir sy Naam het hulle uitgegaan sonder om iets van die heidene te neem.
- 8 Ons behoort dan sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word.
- 9 Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie.
- 10 Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente.
- 11 Geliefde, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie.
- 12 Van Demétrius is deur almal getuienis gegee en deur die waarheid self; en ons getuig ook, en julle weet dat ons getuienis waar is.
- 13 Ek het baie dinge gehad om te skrywe, maar ek wil nie met ink en pen aan jou skryf nie.
- 14 Maar ek hoop om jou gou te sien, en ons sal van mond tot mond spreek.
- 15 Vrede vir jou! Die vriende groet jou. Groet die vriende by die naam.