Psalms 92
  • 1 'n Psalm. 'n Lied vir die sabbatdag.
  • 2 Dit is goed om die HERE te loof en tot eer van u Naam te psalmsing, o Allerhoogste,
  • 3 om in die môre u goedertierenheid te verkondig en u getrouheid in die nagte;
  • 4 by die tiensnarige instrument en by die harp, by snarespel op die siter.
  • 5 Want U het my bly gemaak, HERE, deur u dade; ek jubel oor die werke van u hande.
  • 6 Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!
  • 7 'n Dom mens weet nie, en 'n dwaas verstaan dit nie:
  • 8 as die goddelose mense groei soos die plante en al die werkers van ongeregtigheid bloei, is dit om hulle vir ewig te verdelg.
  • 9 Maar U is hoog verhewe tot in ewigheid, HERE!
  • 10 Want kyk, u vyande, o HERE, want kyk, u vyande sal vergaan; al die werkers van ongeregtigheid sal verstrooi word.
  • 11 Maar U verhoog my horing soos van 'n buffel; ek is met vars olie gesalf.
  • 12 En my oog sien met welgevalle neer op die wat my voorlê, my ore hoor van die wat teen my as kwaaddoeners opstaan.
  • 13 Die regverdige sal groei soos 'n palmboom; hy sal opgroei soos 'n seder op die Líbanon.
  • 14 Geplant in die huis van die HERE, sal hulle groei in die voorhowe van onse God.
  • 15 In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra, hulle sal vet en groen wees,
  • 16 om te verkondig dat die HERE reg is, my rots, en in Hom is geen onreg nie.