Psalms 30
Afrikaans Die Heilige Bybel · 13 verses
- 1 'n Psalm, 'n lied by die inwyding van die Huis. Van Dawid.
- 2 Ek sal U verhoog, HERE, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie.
- 3 HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak.
- 4 HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal.
- 5 Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam;
- 6 want 'n oomblik is daar in sy toorn, 'n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.
- 7 Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie.
- 8 HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg- ek het verskrik geword!
- 9 Ek het U aangeroep, HERE, en ek het die HERE gesmeek:
- 10 Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u trou verkondig?
- 11 Hoor, HERE, en wees my genadig! HERE, wees my 'n helper!
- 12 U het my weeklag vir my verander in 'n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord;
- 13 sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof.