Psalms 145
Afrikaans Die Heilige Bybel · 21 verses
- 1 'n Loflied van Dawid. Alef. o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd.
- 2 Bet. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.
- 3 Gimel. Die HERE is groot en baie lofwaardig, en sy grootheid is ondeurgrondelik.
- 4 Dalet. Die een geslag prys u werke by die ander, en hulle verkondig u magtige dade.
- 5 He. Ek wil spreek van die glans van u heerlike majesteit en van u wonderbare dade.
- 6 Wau. En hulle sal spreek van die krag van u vreeslike dade, en u grootheid wil ek vertel.
- 7 Sajin. Hulle sal die gedagtenis van u grote goedheid laat uitstroom en jubel oor u geregtigheid.
- 8 Get. Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
- 9 Tet. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke.
- 10 Jod. Al u werke loof U, o HERE, en u gunsgenote prys U.
- 11 Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk en spreek van u mag,
- 12 Lamed. om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk.
- 13 Mem. U koninkryk is 'n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte.
- 14 Samek. Die HERE ondersteun almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is.
- 15 Ajin. Die oë van almal wag op U, en U gee hulle hul spys op die regte tyd.
- 16 Pe. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.
- 17 Sade. Die HERE is regverdig in al sy weë en goedgunstig in al sy werke.
- 18 Kof. Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.
- 19 Resj. Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.
- 20 Sjin. Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.
- 21 Tau. My mond sal die lof van die HERE uitspreek, en laat alle vlees sy heilige Naam loof vir ewig en altyd.