Psalms 52
  • 1 Vir die musiekleier. 'n Onderwysing van Dawid.
  • 2 toe Doëg, die Edomiet, gekom het en aan Saul te kenne gegee en aan hom gesê het: Dawid het in die huis van Ahiméleg ingegaan.
  • 3 Wat beroem jy jou in die kwaad, o geweldige? Die goedertierenheid van God duur die hele dag!
  • 4 Jou tong beraam onheil, soos 'n geslypte skeermes, o werker van bedrog!
  • 5 Jy hou meer van kwaad as van goed, van die leuen meer as om geregtigheid te spreek. Sela.
  • 6 Jy hou net van woorde wat verslind, o bedrieglike tong!
  • 7 So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes. Sela.
  • 8 En die regverdiges sal dit sien en vrees; en hulle sal oor hom lag en sê:
  • 9 Kyk, die man wat God nie tot sy toevlug gemaak het nie, maar vertrou het op die grootheid van sy rykdom, sterk was in sy begeerlikheid!
  • 10 Maar ek sal wees soos 'n groen olyfboom in die huis van God; ek vertrou op die goedertierenheid van God vir ewig en altyd.
  • 11 Vir ewig sal ek U loof, omdat U dit gedoen het; en ek sal u Naam verwag, want dié is goed, in teenwoordigheid van u gunsgenote.