Psalms 16
  • 1 'n Gedig van Dawid. Bewaar my, o God, want by U skuil ek.
  • 2 Ek het tot die HERE gesê: U is my Here; vir my is daar geen goed bo U nie.
  • 3 Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.
  • 4 Die smarte van hulle wat 'n ander god met gawes vereer, sal menigvuldig wees; ek sal hulle drankoffers van bloed nie uitgiet en hulle name op my lippe nie neem nie.
  • 5 Die HERE is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my lot.
  • 6 Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.
  • 7 Ek sal die HERE loof wat my raad gegee het; selfs in die nag vermaan my niere my.
  • 8 Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.
  • 9 Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon;
  • 10 want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie.
  • 11 U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.