Psalms 76
Afrikaans Die Heilige Bybel · 13 verses
- 1 Vir die musiekleier; met snaarinstrumente. 'n Psalm van Asaf. 'n Lied.
- 2 God is bekend in Juda, sy Naam is groot in Israel.
- 3 Ook het in Salem sy tent verrys en in Sion sy woning.
- 4 Daar het Hy die blitspyle van die boog verbreek, skild en swaard en oorlog. Sela.
- 5 Glansryk is U, heerlik van die roofberge af!
- 6 Geplunder is die sterkes van hart; hulle het hul slaap gesluimer, en geeneen van die dapper manne het hulle hande gevind nie.
- 7 Deur u dreiging, o God van Jakob, het strydwa en perd saam bedwelmd geraak.
- 8 U, vreeslik is U, en wie kan voor u aangesig bestaan as u toorn uitgebreek het?
- 9 Uit die hemel het U 'n oordeel laat hoor; die aarde het gevrees en stil geword,
- 10 toe God opgestaan het vir die gerig, om al die ootmoediges van die land te verlos. Sela.
- 11 Want die grimmigheid van die mens moet U loof; met die oorblyfsel van grimmighede gord U Uself.
- 12 Doen geloftes en betaal dié aan die HERE julle God! Laat almal wat rondom Hom is, geskenke bring aan die Vreeslike,
- 13 wat die trots van die vorste wegsny, vreeslik is vir die konings van die aarde.