Job 16
  • 1 Maar Job het geantwoord en gesê:
  • 2 Dergelike dinge het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal.
  • 3 Kom daar nou 'n einde aan winderige woorde? Of wat prikkel jou dat jy antwoord?
  • 4 Ek sou ook kon spreek soos julle as julle siel in die plek van my siel was; ek sou woorde aanmekaar kon koppel teen julle en my hoof oor julle skud;
  • 5 ek sou julle kon versterk met my mond, en die troos van my lippe sou versagting aanbring!
  • 6 As ek sou spreek, my smart word nie versag nie; en as ek ophou--watter verligting bring dit my?
  • 7 Maar nou het Hy my uitgeput; U het my hele huishouding verwoes.
  • 8 En U het my gegryp--'n getuie het dit teen my geword; en my siekte staan teen my op, dit getuig openlik teen my.
  • 9 Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan.
  • 10 Hulle het hul mond teen my oopgespalk; smadelik het hulle my op die kakebeen geslaan; soos een man versamel hulle hul teen my.
  • 11 God gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose.
  • 12 Ek het rustig gelewe; toe het Hy my verbrysel en my aan die nek gegryp en my verpletter; en Hy het my vir Hom as teiken opgestel.
  • 13 Sy pyle gons om my heen; Hy splits my niere sonder verskoning; Hy werp my gal op die grond uit.
  • 14 Bres op bres breek Hy in my; Hy loop my storm soos 'n held.
  • 15 'n Roukleed het ek oor my vel vasgewerk en my horing in die stof gesteek.
  • 16 My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar 'n doodskaduwee;
  • 17 alhoewel daar geen gewelddaad in my hande is nie en my gebed rein is.
  • 18 o Aarde, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie.
  • 19 Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes.
  • 20 My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God--
  • 21 dat Hy kan pleit vir 'n man by God en as Menseseun vir sy naaste.
  • 22 Want maar min jare kom--dan bewandel ek 'n pad waarlangs ek nie terugkeer nie.