Job 4
Afrikaans Die Heilige Bybel · 21 verses
- 1 Toe antwoord Élifas, die Temaniet, en sê:
- 2 As 'n mens dit met 'n woord by jou waag, sal jy ontstemd wees? Maar woorde inhou--wie kan dit?
- 3 Kyk, jy het baie mense tereggewys en slap hande versterk.
- 4 Jou woorde het opgerig die wat struikel, en jy het knikkende knieë versterk.
- 5 Maar nou dat dit jóu oorkom, is jy moedverlore; nou dat dit jóu tref, is jy verslae!
- 6 Is jou Godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie?
- 7 Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg?
- 8 Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit.
- 9 Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig.
- 10 Die gebrul van die leeu en die stem van die bruller--ja, die tande van die jong leeus word uitgebreek.
- 11 Die leeu kom om by gebrek aan prooi, en die kleintjies van die leeuin word verstrooi.
- 12 Verder is 'n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het 'n gefluister daarvan opgevang,
- 13 by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val.
- 14 Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe.
- 15 Toe skuif daar 'n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys.
- 16 Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie--'n verskyning voor my oë! Ek hoor die gefluister van 'n stem wat sê:
- 17 Sou 'n sterfling regverdig wees voor God? Of 'n man rein wees voor sy Maker?
- 18 Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling.
- 19 Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos 'n mot.
- 20 Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee.
- 21 Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid.