Job 13
  • 1 Kyk, alles het my oog gesien, my oor gehoor en opgemerk.
  • 2 Wat julle weet, weet ek ook: ek staan nie vir julle terug nie.
  • 3 Maar ék sal met die Almagtige spreek, en ek verlang om te pleit by God.
  • 4 Maar julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal.
  • 5 Ag, as julle maar heeltemal sou swyg--dan sou dit vir julle wysheid wees!
  • 6 Hoor tog na my verantwoording, en luister na die aanvalle van my lippe.
  • 7 Wil julle, tot verdediging van God, onreg spreek en ten behoewe van Hom bedrog laat hoor?
  • 8 Wil julle vir Hom partydig wees? Of wil julle vir God pleit?
  • 9 Sal dit goed wees as Hy julle ondersoek? Of wil julle Hom bedrieg soos 'n mens bedrieg word?
  • 10 Hy sal julle sekerlik straf as julle in die geheim partydig is.
  • 11 Sal sy hoogheid julle nie verskrik nie, en die skrik vir Hom julle nie oorval nie?
  • 12 Julle kernspreuke is spreuke van as, julle skanse word skanse van klei.
  • 13 Laat my met rus; dan wil ék spreek; laat dan oor my kom wat wil.
  • 14 Waarom sou ek my vlees in my tande neem en my lewe neerlê in my hand?
  • 15 Kyk, al wil Hy my ombring--ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.
  • 16 Ook is dit my tot heil dat 'n goddelose voor sy aangesig nie sal kom nie.
  • 17 Luister goed na my rede en gee gehoor aan my verklaring.
  • 18 Kyk tog, ek dra die regsaak voor; ek weet dat ék reg sal hê.
  • 19 Wie durf my dan bestry? Ja, dan sou ek swyg en sterwe.
  • 20 Moet my net twee dinge nie aandoen nie, dan sal ek my vir u aangesig nie verberg nie:
  • 21 trek u hand weg van my af, en laat die skrik vir U my nie beangstig nie.
  • 22 Klaag dan maar aan, en ék sal antwoord; of ek sal spreek, en gee U my antwoord.
  • 23 Hoeveel is my ongeregtighede en sondes; maak my my oortreding en sonde bekend.
  • 24 Waarom verberg U u aangesig en hou my vir 'n vyand van U?
  • 25 Wil U 'n verwaaide blaar skrik aanja en die droë stoppel agtervolg,
  • 26 dat U bitter dinge oor my beskik en my die ongeregtighede van my jeug laat erwe,
  • 27 en dat U my voete in die blok sit en al my paaie bewaak? U trek vir U 'n streep om die sole van my voete;
  • 28 en dít iemand wat verval soos hout wat weggevreet is, soos 'n kleed wat die mot verteer.