Job 33
Afrikaans Die Heilige Bybel · 33 verses
- 1 Maar hoor tog, o Job, na my rede, en luister na al my woorde.
- 2 Kyk, ek het my mond oopgemaak; my tong spreek in my verhemelte.
- 3 My woorde kom uit die opregtheid van my hart, en wat my lippe weet, spreek hulle suiwer uit.
- 4 Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend.
- 5 As u kan, antwoord my; maak klaar teen my; staan gereed!
- 6 Kyk, teenoor God staan ek in dieselfde verhouding as u: van klei is ek ook afgeknyp.
- 7 Kyk, vrees vir my hoef u nie te beangstig nie, en my las sal op u nie swaar wees nie.
- 8 Sekerlik, u het voor my ore gesê, ek het die geluid van die woorde gehoor:
- 9 Rein is ek, sonder oortreding; suiwer is ek, en daar is geen skuld by my nie.
- 10 Kyk, Hy soek aanleidinge vir vyandskap teen my; Hy hou my vir 'n vyand van Hom.
- 11 Hy sit my voete in die blok; Hy bewaak al my paaie.
- 12 Kyk, daarin het u nie reg nie (antwoord ek u), want groter is God as 'n mens.
- 13 Waarom het u teen Hom getwis, dat Hy op al die woorde van 'n mens nie antwoord nie?
- 14 Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie.
- 15 In die droom, in 'n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed,
- 16 dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle;
- 17 om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg;
- 18 sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.
- 19 Ook word hy getugtig met smart op sy bed en aanhoudende stryd in sy gebeente,
- 20 sodat sy lewe hom laat walg van brood en sy siel van lieflingspys.
- 21 Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; en sy gebeente, wat onsigbaar was, steek uit.
- 22 Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte.
- 23 Is daar dan vir hom 'n gesant, 'n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee;
- 24 en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het 'n losprys gevind--
- 25 dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid.
- 26 Hy bid tot God, en Hy het 'n welbehae in hom, sodat hy sy aangesig sien met gejuig: so vergeld Hy dan aan die mens sy geregtigheid.
- 27 Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie.
- 28 Hy het my siel verlos, dat dit nie in die kuil ingegaan het nie, en my lewe mag hom verlustig in die lig.
- 29 Kyk, dit alles doen God, twee keer, ja, drie keer met 'n mens
- 30 om sy siel terug te bring van die kuil, sodat hy bestraal word met die lig van die lewe.
- 31 Let op, o Job! Luister na my; swyg, en ék sal spreek.
- 32 As u woorde het, antwoord my; spreek, want ek wil u graag gelyk gee.
- 33 So nie, luister ú dan na my; swyg, en ek sal u wysheid leer.