Job 3
Afrikaans Die Heilige Bybel · 26 verses
- 1 Daarna het Job sy mond oopgemaak en sy dag vervloek.
- 2 En Job het begin en gesê:
- 3 Mag die dag vergaan waarop ek gebore is, en die nag wat gesê het: 'n Seun is ontvang.
- 4 Mag dié dag duisternis wees; mag God nie na hom vra daarbo nie en geen ligglans oor hom skyn nie.
- 5 Mag duisternis en doodskaduwee hom opeis, 'n wolkgevaarte oor hom gaan lê, dagverduisteringe hom verskrik.
- 6 Daardie nag--mag donkerheid hom wegruk, mag hy nie bly wees onder die dae van die jaar, in die getal van die maande nie kom nie.
- 7 Ja, mag dié nag onvrugbaar wees, geen gejubel tot hom deurdring nie.
- 8 Mag die dagvervloekers hom verwens, hulle wat die kuns verstaan om die Leviátan op te hits.
- 9 Mag die sterre van sy môreskemering verduister word; mag hy wag op lig, maar tevergeefs, en die ooglede van die dageraad nie sien nie.
- 10 Omdat hy vir my nie toegesluit het die deure van die moederskoot nie en moeite vir my oë nie verberg het nie.
- 11 Waarom het ek nie gesterf by die geboorte, nie uitgegaan uit die moederskoot en die asem uitgeblaas nie?
- 12 Waarom het knieë my teëgekom, en waarom borste, dat ek moes drink?
- 13 Want dan sou ek daar gelê en stil gewees het; ek sou geslaap, ek sou dan rus gehad het,
- 14 saam met konings en raadsmanne van die aarde, wat puinhope weer opgebou het vir hulleself;
- 15 of saam met vorste wat goud besit, wat hulle huise met silwer gevul het.
- 16 Of ek sou, soos 'n weggestopte misgeboorte, nie bestaan het nie, soos kinders wat die lig nie gesien het nie.
- 17 Daar hou die goddelose op met woel, en daar rus hulle wie se kragte uitgeput is.
- 18 Die gevangenes is almal saam gerus; hulle hoor die stem van die drywer nie.
- 19 Klein en groot is daar gelyk, en die slaaf is vry van sy heer.
- 20 Waarom gee Hy lig aan die ellendige en lewe aan die wat verbitterd is van siel;
- 21 wat wag op die dood, en hy kom nie; en meer na hom grawe as na verborge skatte;
- 22 wat bly sou wees met gejuig, hulle sou verheug as hulle die graf kon vind?
- 23 Waarom gee Hy lig aan 'n man wie se weg verborge is, 'n man wat deur God aan alle kante ingesluit is?
- 24 Want soos my brood kom my gesug, en my gebrul word uitgestort soos water.
- 25 As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe.
- 26 Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus!