Job 8
  • 1 Toe het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:
  • 2 Hoe lank sal jy hierdie dinge spreek en die woorde van jou mond 'n geweldige wind wees?
  • 3 Sou God die reg verdraai, of die Almagtige die geregtigheid krenk?
  • 4 As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hul oortreding oorgegee.
  • 5 As jy na God soek en die Almagtige om genade smeek,
  • 6 as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid;
  • 7 dan sal jou begin gering wees, maar jou einde baie groot.
  • 8 Want doen tog navraag by die vorige geslag, en gee ag op wat hulle vaders nagespeur het;
  • 9 (want ons is van gister en weet niks nie, omdat ons dae 'n skaduwee op die aarde is;)
  • 10 sal húlle jou nie leer, jou dit nie sê en woorde uit hul hart voortbring nie?
  • 11 Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water?
  • 12 Nog is dit in sy volle groei--sonder dat dit afgepluk word--dan verdor dit voor al die ander gras.
  • 13 So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose;
  • 14 sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is 'n spinnerak.
  • 15 Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie.
  • 16 Vol sap staan hy in die son, en sy ranke sprei uit oor sy tuin.
  • 17 Sy wortels is gevleg oor 'n hoop klippe heen, 'n kliphuis deurboor hy.
  • 18 As Hy hom vernietig uit sy plek, sal dit hom verloën en sê: Ek het jou nie gesien nie.
  • 19 Kyk, dit is die vreugde van sy lewensweg, en uit die stof spruit daar ander uit!
  • 20 Kyk, God verwerp die vrome nie, en Hy vat die kwaaddoeners nie aan die hand nie.
  • 21 Terwyl Hy jou mond met gelag vervul en jou lippe met gejuig,
  • 22 sal jou haters met skaamte beklee word, en die tent van die goddelose--weg is dit!