Job 14
Afrikaans Die Heilige Bybel · 22 verses
- 1 Die mens uit 'n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus.
- 2 Hy spruit uit soos 'n blom en verwelk; ook vlug hy soos 'n skaduwee en hou nie stand nie.
- 3 En oor so een maak U die oë oop, en U bring my voor u gereg.
- 4 Ag, kon maar 'n reine voortkom uit 'n onreine--nie een nie!
- 5 As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie,
- 6 kyk dan weg van hom af, dat hy kan rus--totdat hy soos 'n dagloner hom tevrede voel met sy dag.
- 7 Want vir 'n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie.
- 8 As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof--
- 9 van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak 'n tak soos 'n jong plantjie.
- 10 Maar 'n man sterwe en is magteloos; ja, 'n mens blaas die asem uit en--waar is hy?
- 11 Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog--
- 12 so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie.
- 13 Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my 'n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink!
- 14 As 'n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom;
- 15 U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang.
- 16 Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie?
- 17 My oortreding is verseël in 'n bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg.
- 18 Maar soos 'n berg stukkend val as dit neerstort, en 'n rots versit word uit sy plek;
- 19 die water klippe glad skuur; die stortvloede daarvan die grond van die aarde wegspoel; so is die verwagting van 'n mens--U maak dit tot niet.
- 20 U oorweldig hom vir ewig, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en stuur hom weg.
- 21 Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gewaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie.
- 22 Net sy vlees aan hom voel pyn, en sy siel in hom treur.