Spreuke 9
Afrikaans Die Heilige Bybel · 18 verses
- 1 Die Wysheid het haar huis gebou, haar sewe pilare uitgekap,
- 2 haar slagvee geslag, haar wyn gemeng, ook haar tafel gedek.
- 3 Sy het haar diensmeisies uitgestuur, sy nooi uit op die hange van die stadshoogtes:
- 4 Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen, wie verstandeloos is, vir hom sê sy:
- 5 Kom, eet julle van my brood, en drink van die wyn wat ek gemeng het;
- 6 laat staan die eenvoudigheid, dan sal julle lewe, en betree die weg van verstand.
- 7 Hy wat 'n spotter teregwys, behaal vir homself skande, en hy wat 'n goddelose bestraf, vir homself 'n skandvlek.
- 8 Bestraf 'n spotter nie, anders haat hy jou; bestraf 'n wyse, en hy sal jou liefhê.
- 9 Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder.
- 10 Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand.
- 11 Want deur my word jou dae meer en word jare van lewe vir jou toegevoeg.
- 12 As jy wys is, is jy wys tot jou voordeel, en is jy 'n spotter, dan moet jy dit alleen dra.
- 13 Vrou Dwaasheid is onrustig, pure eenvoudigheid en heeltemal onkundig;
- 14 en sy sit by die deur van haar huis, op 'n stoel op die hoogtes van die stad,
- 15 om te nooi die wat op die weg verbygaan, die wat op hulle paaie reguit wandel:
- 16 Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen! En die verstandelose, aan hom sê sy:
- 17 Gesteelde waters is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker.
- 18 Maar hy weet nie dat dáár skimme is, dat haar genooides in die dieptes van die doderyk is nie.