Spreuke 20
  • 1 Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie.
  • 2 Die dreiging van die koning is soos die gebrom van 'n jong leeu; wie hom vertoorn, verbeur sy lewe.
  • 3 Dit is 'n eer vir 'n man om van twis weg te bly, maar elke sot breek los.
  • 4 In die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie.
  • 5 Die raad in die hart van 'n man mag diep waters wees, 'n man van verstand sal dit tog uitskep.
  • 6 Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind 'n betroubare man?
  • 7 Wie in sy regskapenheid wandel as 'n regverdige--gelukkig is sy kinders ná hom.
  • 8 'n Koning wat op die regterstoel sit, wan met sy oë alles uit wat sleg is.
  • 9 Wie kan sê: Ek het my hart suiwer gehou, ek is rein van my sonde?
  • 10 Twee soorte gewig, twee soorte maat--hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel.
  • 11 Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is.
  • 12 'n Oor wat hoor, en 'n oog wat sien--die HERE het hulle altwee gemaak.
  • 13 Moenie die slaap liefhê, sodat jy arm word nie; maak jou oë oop, dat jy jou met brood kan versadig.
  • 14 Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom.
  • 15 Daar is goud en 'n menigte korale, maar 'n kosbare sieraad is die lippe van kennis.
  • 16 Neem sy kleed weg, want hy het vir 'n ander borg gestaan, en neem hom as pand vir die vreemdes.
  • 17 Soet is vir 'n mens die brood van bedrog, maar daarna word sy mond vol gruisklippertjies.
  • 18 Planne kom deur beraadslaging tot stand; voer dan oorlog met goeie oorleg.
  • 19 Wie met kwaadsprekery omgaan, maak 'n geheim openbaar; laat jou dus nie in met een wat sy lippe laat oopstaan nie.
  • 20 Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood.
  • 21 'n Besit wat by die begin haastig bymekaargeskraap is--die einde daarvan sal tog nie geseënd wees nie.
  • 22 Moenie sê: Ek wil die kwaad vergelde nie! Wag op die HERE, dat Hy jou help.
  • 23 Twee soorte gewig is vir die HERE 'n gruwel, en 'n valse weegskaal is nie goed nie.
  • 24 Die voetstappe van 'n man hang van die HERE af: hoe sou 'n mens dan sy weg verstaan?
  • 25 Dit is vir die mens 'n strik dat hy onbedagsaam sê: Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg.
  • 26 'n Wyse koning wan die goddelose uit en laat die dorswiel oor hulle draai.
  • 27 Die gees van die mens is 'n lamp van die HERE, dit deursoek al die kamers van die binneste.
  • 28 Liefde en trou behoed die koning, en deur liefde stut hy sy troon.
  • 29 Die sieraad van die jongmanne is hulle krag, en die versiersel van grysaards is grys hare.
  • 30 Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste.