Spreuke 29
Afrikaans Die Heilige Bybel · 27 verses
- 1 'n Man wat baie bestraf is, en sy nek verhard, sal onvoorsiens verbreek word sonder dat daar genesing is.
- 2 As die regverdiges talryk word, is die volk bly; maar as die goddelose heers, sug die volk.
- 3 'n Man wat die wysheid liefhet, verbly sy vader; maar hy wat met hoere omgaan, bring die goed deur.
- 4 'n Koning hou deur reg die land in stand, maar 'n man wat belastings afpers, verwoes dit.
- 5 'n Man wat sy naaste vlei, sprei 'n net uit voor sy voetstappe.
- 6 In die oortreding van 'n slegte mens is 'n strik, maar die regverdige sal jubel en bly wees.
- 7 Die regverdige ken die reg van die armes, maar die goddelose verkry geen kennis nie.
- 8 Manne wat spot, bring 'n stad in oproer, maar die wyse bring die toorn tot bedaring.
- 9 Het 'n wyse man met 'n sot 'n regsaak, dan gaan die sot te kere en lag, sonder bedaring.
- 10 Manne van bloed haat die regskapene, en hulle soek die lewe van die opregtes.
- 11 'n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar 'n wyse bring dit eindelik tot bedaring.
- 12 'n Heerser wat luister na 'n leuenagtige woord, sy dienaars is almal goddeloos.
- 13 Die arme en die man wat verdruk, ontmoet mekaar, die HERE verlig altwee se oë.
- 14 'n Koning wat getrou aan die armes reg verskaf, sy troon sal vir altyd bevestig wees.
- 15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar 'n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.
- 16 As die goddelose vermeerder, vermeerder die oortreding; maar die regverdiges aanskou met welgevalle hulle ondergang.
- 17 Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.
- 18 As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die wet onderhou, gelukkig is hy.
- 19 Met woorde laat 'n slaaf hom nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie.
- 20 Het jy 'n man gesien wat haastig is in sy woorde? Vir 'n dwaas is daar meer hoop as vir hom.
- 21 As 'n mens sy slaaf van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar.
- 22 'n Opvlieënde man verwek twis, en 'n driftige man is ryk aan oortreding.
- 23 Die trotsheid van 'n mens verneder hom, maar die nederige van gees sal eer verkry.
- 24 Hy wat saam met 'n dief deel, haat sy eie siel; hy hoor die beswering, maar openbaar niks nie.
- 25 Die vrees vir die mens span 'n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.
- 26 Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van 'n mens kom van die HERE.
- 27 'n Man van onreg is vir die regverdiges 'n gruwel, en vir die goddelose is die opregte van wandel 'n gruwel.