Spreuke 31
  • 1 Die woorde van Lémuël, die koning van Massa, waarmee sy moeder hom vermaan het:
  • 2 Wat, my seun, ja wat, seun van my skoot, ja wat, seun van my geloftes, sal ek sê?
  • 3 Gee jou krag nie aan vroue of jou omgang aan die wat konings uitroei nie.
  • 4 Die konings, o Lémuël, die konings moet nie wyn drink nie, en die vorste moet nie sterk drank begeer nie;
  • 5 anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges.
  • 6 Gee sterk drank aan hom wat wil ondergaan, en wyn aan die wat bitter bedroef is.
  • 7 Laat hy drink en sy armoede vergeet en aan sy moeite nie meer dink nie.
  • 8 Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn.
  • 9 Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige.
  • 10 Alef. Wie sal 'n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.
  • 11 Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.
  • 12 Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.
  • 13 Dalet. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande.
  • 14 He. Sy is soos die skepe van 'n handelaar--van ver af bring sy haar brood in.
  • 15 Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies.
  • 16 Sajin. Sy dink na oor 'n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy 'n wingerd.
  • 17 Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig.
  • 18 Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie.
  • 19 Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas.
  • 20 Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige.
  • 21 Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof.
  • 22 Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper.
  • 23 Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit.
  • 24 Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars.
  • 25 Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.
  • 26 Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong.
  • 27 Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.
  • 28 Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar:
  • 29 Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.
  • 30 Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; 'n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.
  • 31 Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poort.