Klaagliedere 5
  • 1 Dink, HERE, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad.
  • 2 Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders.
  • 3 Ons het wese geword, sonder 'n vader, ons moeders is soos weduwees.
  • 4 Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in.
  • 5 Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word.
  • 6 Na Egipte het ons die hand uitgestrek, na Assur om met brood versadig te word.
  • 7 Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie, en óns dra hulle ongeregtighede.
  • 8 Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie.
  • 9 Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn.
  • 10 Ons vel gloei soos 'n oond vanweë die gloed van die honger.
  • 11 Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda.
  • 12 Vorste is deur hulle hand opgehang, die persoon van die grysaards nie geëer nie.
  • 13 Jongmanne dra die handmeul, en seuns struikel onder die drag hout.
  • 14 Die oudstes is nie meer in die poort nie, die jongmanne sonder hulle snarespel.
  • 15 Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander.
  • 16 Die kroon van ons hoof het geval; wee ons, dat ons gesondig het.
  • 17 Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister:
  • 18 ter wille van die berg Sion wat woes lê, waar die jakkalse op rondloop.
  • 19 U, HERE, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag.
  • 20 Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae?
  • 21 Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd.
  • 22 Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot?