Númeri 29
  • 1 En in die sewende maand, op die eerste van die maand, moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie; dit moet vir julle 'n dag van trompetgeklank wees.
  • 2 Dan moet julle 'n brandoffer as lieflike geur vir die HERE berei: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
  • 3 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes van 'n efa vir die bul, twee-tiendes vir die ram,
  • 4 en een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
  • 5 en een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen;
  • 6 behalwe die brandoffer van die nuwemaan en die spysoffer wat daarby behoort, en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, en hulle drankoffers volgens die daarvoor geldende voorskrif--tot 'n lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE.
  • 7 En op die tiende van hierdie sewende maand moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees, en julle moet julle verootmoedig; géén werk mag julle doen nie.
  • 8 Dan moet julle 'n brandoffer as lieflike geur aan die HERE bring: een jong bul, een ram, sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees;
  • 9 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir die bul, twee-tiendes vir die een ram,
  • 10 een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
  • 11 een bokram as sondoffer, behalwe die sondoffer van versoening en die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort--en hulle drankoffers.
  • 12 En op die vyftiende dag van die sewende maand moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie, maar julle moet sewe dae lank vir die HERE 'n fees vier.
  • 13 En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE bring: dertien jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle wees;
  • 14 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul van die dertien bulle, twee-tiendes vir elke ram van die twee ramme,
  • 15 en een-tiende vir elke lam van die veertien lammers;
  • 16 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
  • 17 Daarna op die tweede dag: twaalf jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
  • 18 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
  • 19 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffers, en die spysoffer en drankoffers wat daarby behoort.
  • 20 En op die derde dag: elf bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
  • 21 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
  • 22 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
  • 23 Verder op die vierde dag: tien bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
  • 24 hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
  • 25 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
  • 26 En op die vyfde dag: nege bulle, twee ramme en veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
  • 27 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
  • 28 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
  • 29 Daarna op die sesde dag: agt bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
  • 30 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
  • 31 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
  • 32 En op die sewende dag: sewe bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers sonder gebrek;
  • 33 en hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bulle, die ramme en die lammers, na hulle getal, volgens die daarvoor geldende voorskrif;
  • 34 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
  • 35 Op die agtste dag moet daar vir julle 'n feestyd wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
  • 36 En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan die HERE bring: een bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
  • 37 hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bul, die ram en die lammers, na hulle getal, volgens die voorskrif;
  • 38 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
  • 39 Dit moet julle tot eer van die HERE op jul feestye berei, behalwe julle geloftes en julle vrywillige gawes, of dit al brandoffers is of spysoffers of drankoffers of dankoffers.
  • 40 En Moses het aan die kinders van Israel alles gesê net soos die HERE Moses beveel het.