Númeri 28
Afrikaans Die Heilige Bybel · 31 verses
- 1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
- 2 Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om my offer, my spys vir my vuuroffers as lieflike geur vir My, op die bepaalde tyd aan My te bring.
- 3 En jy moet vir hulle sê: Dit is die vuuroffer wat julle aan die HERE moet bring: twee jaaroud lammers sonder gebrek elke dag as 'n voortdurende brandoffer.
- 4 Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei;
- 5 met 'n tiende van 'n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met 'n kwart-hin uitgestampte olie.
- 6 Dit is die voortdurende brandoffer wat by die berg Sinai ingestel is as lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE.
- 7 En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees 'n kwart-hin vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet.
- 8 En die ander lam moet jy teen die aand berei; met dieselfde spysoffer as in die môre en met die drankoffer wat daarby behoort, moet jy dit berei--'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
- 9 Maar op die sabbatdag twee jaaroud lammers sonder gebrek en twee-tiendes van 'n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en die drankoffer wat daarby behoort.
- 10 Dit is die brandoffer van die sabbat op elke sabbat, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
- 11 En by die begin van julle maande moet julle 'n brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
- 12 en drie-tiendes van 'n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke bul, en twee tiendes fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir die een ram;
- 13 en een-tiende fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke lam. Dit is 'n brandoffer, 'n lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE.
- 14 En hulle drankoffers moet wees 'n half-hin wyn vir 'n bul en 'n derde van 'n hin vir 'n ram en 'n kwart-hin vir 'n lam. Dit is die brandoffer by elke nuwemaan, vir die maande van die jaar.
- 15 Ook moet een bokram as sondoffer aan die HERE berei word, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
- 16 En in die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, is die pasga van die HERE.
- 17 En op die vyftiende dag van hierdie maand is dit fees; sewe dae lank moet ongesuurde brode geëet word.
- 18 Op die eerste dag moet daar 'n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
- 19 Maar julle moet as vuuroffer, as brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram en sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees.
- 20 En hulle spysoffer fynmeel met olie gemeng: drie-tiendes van 'n efa vir 'n bul en twee-tiendes vir 'n ram moet julle berei.
- 21 Een-tiende moet jy vir elke lam van die sewe lammers berei.
- 22 Daarby een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen.
- 23 Behalwe die môrebrandoffer, wat as voortdurende brandoffer dien, moet julle dit berei.
- 24 Op dié manier moet julle elke dag, sewe dae lank, die vuurofferspys van lieflike geur vir die HERE berei; by die voortdurende brandoffer moet dit berei word--en die drankoffer wat daarby behoort.
- 25 En op die sewende dag moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
- 26 En op die dag van die eerstelinge, as julle 'n nuwe spysoffer by julle fees van die weke aan die HERE bring, moet daar vir julle'n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
- 27 Dan moet julle 'n brandoffer as lieflike geur aan die HERE bring: twee jong bulle, een ram, sewe jaaroud lammers;
- 28 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul, twee-tiendes vir die een ram,
- 29 een-tiende vir elke lam van die sewe lammers;
- 30 een bokram om vir julle versoening te doen.
- 31 Behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, moet julle dit berei--hulle moet vir julle sonder gebrek wees--en hulle drankoffers.