Matteus 28
  • 1 En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk.
  • 2 En daar kom 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit.
  • 3 En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.
  • 4 En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.
  • 5 Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.
  • 6 Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;
  • 7 en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.
  • 8 En hulle het haastig weggegaan van die graf met vrees en groot blydskap, en gehardloop om dit aan sy dissipels te vertel.
  • 9 En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom.
  • 10 En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien.
  • 11 En terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het.
  • 12 En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee
  • 13 en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.
  • 14 En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is.
  • 15 Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.
  • 16 En die elf dissipels het na Galiléa gegaan, na die berg waar Jesus hulle bestel het.
  • 17 En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel.
  • 18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
  • 19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
  • 20 En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen