Matteus 22
  • 1 En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê:
  • 2 Die koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het
  • 3 en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie.
  • 4 Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.
  • 5 Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en 'n ander na sy handelsaak.
  • 6 En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak.
  • 7 Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.
  • 8 Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie.
  • 9 Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.
  • 10 En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword.
  • 11 En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie 'n bruilofskleed aan het nie.
  • 12 En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie.
  • 13 Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
  • 14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
  • 15 Toe gaan die Fariseërs saam raad hou hoe om Hom in sy woord te verstrik.
  • 16 En hulle stuur hul dissipels saam met die Herodiane na Hom en sê: Meester, ons weet dat U waaragtig is en die weg van God in waarheid leer en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense aan nie--
  • 17 sê dan vir ons, wat dink U: Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?
  • 18 Maar Jesus het hulle boosheid bemerk en gesê:
  • 19 Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom 'n penning gebring.
  • 20 En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?
  • 21 Hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.
  • 22 En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.
  • 23 Dieselfde dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom
  • 24 en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek.
  • 25 Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.
  • 26 So ook die tweede en die derde tot die sewende toe.
  • 27 En laaste van almal het die vrou ook gesterwe.
  • 28 In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees--want hulle almal het haar gehad?
  • 29 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.
  • 30 Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.
  • 31 En wat die opstanding van die dode betref--het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:
  • 32 Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes.
  • 33 En toe die skare dit hoor, was hulle verslae oor sy leer.
  • 34 En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader.
  • 35 En een van hulle, 'n wetgeleerde, het 'n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:
  • 36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
  • 37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
  • 38 Dit is die eerste en groot gebod.
  • 39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
  • 40 Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.
  • 41 En toe die Fariseërs saamgekom het, vra Jesus hulle
  • 42 en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s'n.
  • 43 Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê:
  • 44 Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete?
  • 45 As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?
  • 46 En niemand kon Hom 'n woord antwoord nie; ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.