Markus 4
  • 1 En Hy het nog 'n maal by die see begin leer; en 'n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see.
  • 2 En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê:
  • 3 Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai.
  • 4 En terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet.
  • 5 En 'n ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie.
  • 6 En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.
  • 7 En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie.
  • 8 En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.
  • 9 En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
  • 10 En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra.
  • 11 En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse,
  • 12 sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie.
  • 13 En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan?
  • 14 Die saaier saai die woord.
  • 15 En dit is hulle wat langs die pad is--waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is.
  • 16 Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word--wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem,
  • 17 maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik.
  • 18 En hulle by wie in die dorings gesaai word--dit is hulle wat die woord hoor,
  • 19 en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.
  • 20 En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is--hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig.
  • 21 En Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie?
  • 22 Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.
  • 23 As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor.
  • 24 En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor.
  • 25 Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
  • 26 En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi;
  • 27 en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot--hoe, weet hy self nie.
  • 28 Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar.
  • 29 En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.
  • 30 En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel?
  • 31 Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is;
  • 32 en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.
  • 33 En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan;
  • 34 en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.
  • 35 En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant.
  • 36 En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom.
  • 37 En 'n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word.
  • 38 Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?
  • 39 En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom.
  • 40 Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?
  • 41 En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!