Génesis 44
Afrikaans Die Heilige Bybel · 34 verses
- 1 Toe gee hy bevel aan die opsigter oor sy huis en sê: Maak die sakke van die manne vol met lewensmiddele soveel as hulle kan vervoer, en sit elkeen se geld bo in sy sak;
- 2 en my beker, die silwerbeker, moet jy bo in die jongste se sak sit saam met die geld vir sy koring. En hy het gehandel volgens die woord wat Josef gespreek het.
- 3 Toe dit die môre lig word, het hulle die manne laat trek, hulle met hul esels.
- 4 Hulle het uit die stad uitgetrek, hulle was nog nie ver nie toe Josef aan die opsigter oor sy huis sê: Maak jou klaar en jaag die manne agterna; en as jy hulle inhaal, vra hulle dan: Waarom het julle kwaad vir goed vergelde?
- 5 Is dit nie die ding waaruit my heer drink en waarmee hy altyd waarneem nie? Julle het verkeerd gehandel met wat julle gedoen het.
- 6 En hy het hulle ingehaal en hierdie woorde aan hulle meegedeel.
- 7 Toe sê hulle vir hom: Waarom spreek my heer sulke woorde? Dit is ver van u dienaars om so iets te doen.
- 8 Kyk, geld wat ons bo in ons sakke gevind het, het ons uit die land Kanaän aan u teruggebring hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u heer kan steel?
- 9 Dié een van u dienaars by wie dit gevind word, moet sterwe; en ons sal ook my heer se slawe wees.
- 10 Toe sê hy: Nou goed, laat dit wees soos julle gesê het. Dié een by wie dit gevind word, is my slaaf. Maar júlle sal vry wees.
- 11 Daarop het hulle gou elkeen sy sak op die grond neergesit en elkeen sy sak oopgemaak.
- 12 En hy het gesoek; hy het begin by die oudste en opgehou by die jongste; en die beker is in Benjamin se sak gevind.
- 13 Toe skeur hulle hul klere, en elkeen laai sy esel, en hulle gaan na die stad terug.
- 14 En Juda het saam met sy broers in die huis van Josef gekom, terwyl hy nog daar was, en hulle het voor hom neergeval op die grond.
- 15 Daarop sê Josef vir hulle: Wat is dit nou wat julle gedoen het? Weet julle nie dat 'n man soos ek dit ongetwyfeld moet waarneem nie?
- 16 En Juda antwoord: Wat kan ons aan my heer sê? Wat kan ons spreek? En waarmee kan ons ons regverdig? God het die ongeregtigheid van u dienaars uitgevind. Kyk, ons is my heer se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gevind is.
- 17 Maar hy sê: Dit is ver van my om dit te doen; die man by wie die beker gevind is, dié sal my slaaf wees. Maar trek júlle in vrede op na julle vader.
- 18 Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog 'n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.
- 19 My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle 'n vader of broer?
- 20 En ons het my heer geantwoord: Ons het 'n ou vader; en daar is 'n jong seun, 'n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief.
- 21 Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig.
- 22 En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat.
- 23 Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie.
- 24 En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het,
- 25 het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons 'n bietjie voedsel.
- 26 Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie.
- 27 En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het--
- 28 die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie.
- 29 As julle nou hierdie een ook van my af wegneem en hom 'n ongeluk oorkom, dan sal julle my grys hare met droefenis in die doderyk laat afdaal.
- 30 As ek dan nou by u dienaar, my vader, kom en die seun nie by ons is nie--terwyl sy siel innig aan hom verkleef is--
- 31 sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal.
- 32 Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan.
- 33 Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek.
- 34 Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!