Génesis 25
Afrikaans Die Heilige Bybel · 34 verses
- 1 En Abraham het weer 'n vrou geneem met die naam van Ketúra.
- 2 En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar.
- 3 En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete.
- 4 En die seuns van Mídian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä. Hulle almal was seuns van Ketúra.
- 5 En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het,
- 6 maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland.
- 7 En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd vyf en sewentig jaar.
- 8 Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel.
- 9 En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,
- 10 die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara.
- 11 Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï.
- 12 En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het--
- 13 dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam
- 14 en Misma en Duma en Massa,
- 15 Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma.
- 16 Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme.
- 17 En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote.
- 18 En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.
- 19 En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak.
- 20 En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het.
- 21 En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het.
- 22 En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg.
- 23 En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.
- 24 En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar 'n tweeling in haar skoot.
- 25 En die eerste is gebore--rooi, geheel en al soos 'n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem.
- 26 En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte.
- 27 En die seuns het opgegroei: Esau het 'n ervare jagter geword, 'n man van die veld; maar Jakob was 'n vredeliewende man wat in tente gewoon het.
- 28 En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad.
- 29 En Jakob het 'n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom.
- 30 Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem.
- 31 En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.
- 32 En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan?
- 33 Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop.
- 34 En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.