Titus 2
Afrikaans Die Heilige Bybel · 15 verses
- 1 Maar spreek jy wat by die gesonde leer pas.
- 2 Die ou manne moet nugter wees, waardig, ingetoë, gesond in die geloof, in die liefde, in die lydsaamheid.
- 3 Die ou vroue moet ook in hulle gedrag wees soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreeksters of aan baie wyn verslaaf nie, maar leraresse van wat goed is,
- 4 sodat hulle die jong vroue kan leer om versigtig te wees, hulle mans en kinders lief te hê,
- 5 ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie.
- 6 Vermaan die jong manne net so om ingetoë te wees.
- 7 Betoon jou in alles 'n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid.
- 8 Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie.
- 9 Die diensknegte moet onderdanig wees aan hul eie here, hulle in alles behaag en nie teëpraat nie;
- 10 hulle moet niks ontvreemd nie, maar alle goeie trou betoon, sodat hulle die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier.
- 11 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn
- 12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
- 13 terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,
- 14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself 'n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.
- 15 Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns. Laat niemand jou verag nie.