Nahum 3
Afrikaans Die Heilige Bybel · 19 verses
- 1 Wee die bloedstad wat louter bedrog, vol geweld is, terwyl rowery nie ophou nie!
- 2 Hoor, die sweep! En hoor, die gedreun van wiele! En perde wat jaag, en waens wat stamp!
- 3 Ruiters op 'n galop en geglinster van swaarde en geblits van spiese! En 'n menigte wat verslaan is, en hope dooies en geen einde aan die lyke nie--'n mens struikel oor hulle lyke!
- 4 Weens die veelheid van die hoererye van die hoer vol bevalligheid, 'n meesteres in towerkunste, wat nasies met haar hoererye verkoop het en volkstamme met haar towerkunste.
- 5 Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal jou slippe optel oor jou aangesig en nasies jou naaktheid laat sien en koninkryke jou skande.
- 6 En Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou 'n skouspel maak,
- 7 sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Ninevé! Wie sal met haar medelyde hê? Waar sal ek troosters vir jou gaan soek?
- 8 Is jy beter as No-Amon wat gelê het aan die Nylstrome, met waters rondom hom; wie se voorskans die groot water was, waters sy muur?
- 9 Kus was sy krag en Egiptenaars sonder getal, Putéërs en Líbiërs was jou tot hulp.
- 10 Nogtans het dit as gevangene in ballingskap gegaan; nogtans is sy kinders by al die straathoeke verpletter, en oor sy edeles is die lot gewerp, en al sy groot manne is met kettings geboei.
- 11 Ook jy sal dronk word, beneweld wees, ook jy sal 'n toevlug soek teen die vyand.
- 12 Al jou vestings is vyebome met voorvye: as 'n mens skud, val hulle in die mond van die eter.
- 13 Kyk, jou volk binne-in jou is soos vroue, die poorte van jou land is wyd oopgemaak vir jou vyande, die vuur het jou grendels verteer.
- 14 Skep vir jou water vir die beleëring, versterk jou vestings, gaan in die modder en trap klei, gryp die steenvorm.
- 15 Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei, jou verslind net soos voetgangersprinkane. Al vermenigvuldig jy soos voetgangers, al vermenigvuldig jy soos treksprinkane;
- 16 al het jy jou koopmans meer gemaak as die sterre aan die hemel--die voetgangers vervel en vlieg weg!
- 17 Jou wagters is soos treksprinkane, en jou amptenare is soos swerms sprinkane wat op 'n koue dag op die heining sit--die son breek deur, en hulle vlieg weg, en niemand weet waar hulle beland het nie.
- 18 Jou herders sluimer, o koning van Assur, jou edeles lê daar, jou volk is op die berge verstrooi, en niemand versamel hulle nie.
- 19 Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik; almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?