Jeremia 12
  • 1 Regverdig is U, o HERE, as ek met U sou twis. Tog wil ek oor regsake met U spreek: Waarom is die weg van die goddelose voorspoedig? Waarom lewe hulle rustig, almal wat ontrou bedrywe?
  • 2 U het hulle geplant, ook het hulle wortel geskiet; hulle groei, ook dra hulle vrugte. U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.
  • 3 Maar U, o HERE, ken my; U sien my en toets my hart by U. Ruk hulle weg soos slagskape, en heilig hulle vir die dag van slagting.
  • 4 Hoe lank sal die land treur en die plante van die hele veld verdor? Vanweë die boosheid van die wat daarin woon, vergaan diere en voëls; omdat hulle sê: Hy sal ons einde nie sien nie!
  • 5 As jy met voetgangers loop, maak hulle jou moeg: hoe sal jy dan wedywer met die perde? En in 'n land van vrede voel jy jou veilig: hoe sal jy dan maak in die pronkbosse van die Jordaan?
  • 6 Want ook jou broers en die huis van jou vader, ook hulle het troueloos teen jou gehandel; ook hulle roep jou hardop agterna. Glo hulle nie as hulle vriendelik met jou spreek nie.
  • 7 Ek het my huis verlaat, Ek het my erfenis verwerp, Ek het die beminde van my siel in die hand van haar vyande gegee.
  • 8 My erfenis het vir My geword soos 'n leeu in die bos; dit het sy stem teen My verhef; daarom het Ek dit gehaat.
  • 9 Is my erfenis dan vir My 'n bont roofvoël? Is daar roofvoëls rondom teen hom? Kom, maak al die wilde diere van die veld bymekaar, laat hulle kom om te eet.
  • 10 Baie herders het my wingerd verniel, hulle het my stuk land vertrap, hulle het my begeerlike stuk land 'n woeste wildernis gemaak,
  • 11 hulle het dit 'n wildernis gemaak; dit treur voor My, verwoes; die hele land is verwoes, omdat daar niemand is wat dit ter harte neem nie.
  • 12 Op al die kaal heuwels in die woestyn het verwoesters gekom, want die swaard van die HERE verteer van die een end van die land tot die ander end van die land; daar is geen vrede vir enige vlees nie.
  • 13 Hulle het koring gesaai, maar dorings gemaai; hulle het hul uitgeput sonder om baat te vind. Staan dan beskaamd oor julle inkomste, vanweë die toorngloed van die HERE.
  • 14 So sê die HERE: Aangaande al my goddelose bure wat die erfenis aantas wat Ek my volk Israel laat erf het--kyk, Ek ruk hulle uit hul land uit, en die huis van Juda sal Ek uit hulle midde wegruk.
  • 15 Maar nadat Ek hulle uitgeruk het, sal Ek My weer oor hulle ontferm; en Ek sal hulle terugbring, elkeen na sy erfenis en elkeen na sy land.
  • 16 En as hulle ywerig die weë van my volk leer om te sweer by my Naam: So waar as die HERE leef, soos hulle my volk geleer het om te sweer by Baäl--dan sal hulle onder my volk gebou word.
  • 17 Maar as hulle nie luister nie, dan sal Ek dié nasie heeltemal uitruk en tot niet maak, spreek die HERE.