2 Timoteus 2
Afrikaans Die Heilige Bybel · 26 verses
- 1 Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is;
- 2 en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer.
- 3 Ly dan verdrukking soos 'n goeie krygsman van Jesus Christus.
- 4 Niemand wat 'n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.
- 5 En verder, as iemand aan 'n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie.
- 6 Die landbouer wat swaar werk, behoort eerste van die vrugte te geniet.
- 7 Dink na oor wat ek sê; en mag die Here jou insig gee in alles!
- 8 Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie,
- 9 waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie.
- 10 Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.
- 11 Dit is 'n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe.
- 12 As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.
- 13 As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.
- 14 Herinner aan hierdie dinge en betuig voor die Here dat hulle geen woordestryd moet voer wat tot geen nut is nie, maar net tot ondergang van die hoorders.
- 15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as 'n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny.
- 16 Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid,
- 17 en hulle woord sal voortwoeker soos 'n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is,
- 18 wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om.
- 19 Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.
- 20 Maar in 'n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer.
- 21 As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy 'n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk.
- 22 Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.
- 23 En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek;
- 24 en 'n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra.
- 25 Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie,
- 26 en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen.