1 Korintiërs 3
  • 1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
  • 2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,
  • 3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?
  • 4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos--is julle nie vleeslik nie?
  • 5 Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het.
  • 6 Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.
  • 7 So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.
  • 8 Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang.
  • 9 Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.
  • 10 Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos 'n bekwame boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.
  • 11 Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
  • 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels--
  • 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
  • 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
  • 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
  • 16 Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
  • 17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.
  • 18 Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word;
  • 19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang;
  • 20 en verder: Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is.
  • 21 Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;
  • 22 of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge--alles behoort aan julle;
  • 23 maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.