1 Kronieke 20
Afrikaans Die Heilige Bybel · 8 verses
- 1 En ná verloop van 'n jaar, teen die tyd dat die konings uittrek, het Joab die leërmag aangevoer en die land van die kinders van Ammon verwoes; hy het ook gekom en Rabba beleër, terwyl Dawid in Jerusalem gebly het. En Joab het Rabba verslaan en dit afgebreek.
- 2 En Dawid het die kroon van Milkom van sy hoof afgeneem en bevind dat die gewig daarvan 'n talent goud was; en daarin was 'n kosbare steen, en dit het op die hoof van Dawid gekom; en hy het 'n baie groot buit van die stad uitgebring.
- 3 Hy het ook die bevolking wat daarin was, uitgebring en hulle met die saag laat saag, en met ysterpenne en met byle laat werk; en so het Dawid gedoen met al die stede van die kinders van Ammon. Toe het Dawid met al die manskappe na Jerusalem teruggegaan.
- 4 En daarna het daar by Geser oorlog ontstaan met die Filistyne; toe het Síbbegai, die Husatiet, Síppai, uit die kinders van die Refaïte verslaan, sodat hulle onderworpe geraak het.
- 5 En daar was weer oorlog met die Filistyne; en Élhanan, die seun van Jaïr, het Lagmi, die broer van Goliat, die Gittiet, wie se spiessteel soos 'n wewersbalk was, verslaan.
- 6 En daar was weer oorlog by Gat, en daar was 'n baie lang man met ses vingers aan elke hand en voet, vier en twintig; en hy was ook 'n afstammeling van die Refaïete.
- 7 En hy het Israel uitgedaag, maar Jónatan, die seun van Símea, die broer van Dawid, het hom verslaan.
- 8 Hulle was afstammelinge van die Refaïete in Gat, en hulle het geval deur die hand van Dawid en deur die hand van sy dienaars.